Lys van Joodse feeste en herdenkings

Kerse word net voor die begin van die Joodse Sabbat en Joodse feeste aangesteek. Met die Kidoesj word die seën oor 'n beker wyn gespreek wat die Sabbat en Joodse feeste inlui

Hierdie is 'n lys van Joodse feeste en herdenkings volgens die Joodse kalender. Joodse feeste staan bekend as Jamim Towim (Hebreeuse meervoud: ימים טובים, letterlik: "Goeie dae") of Jom Tow (eenvoud: יום טוב, letterlik: "Goeie dag"). Hulle is gerangskik volgens die herdenkings in die jaarkring, die hedendaagse vakansiedae in Israel en ander herdenkings en vasdae in Judaïsme. Die twee heiligste dae in die Joodse kalender is die weeklikse Sabbat en die jaarlikse Jom Kippoer. Die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim) is Pesach, Sjavuot en Soekkot. Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek en gedurende hierdie feeste offers gebring. Van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste is Chanoeka en Poerim, waarby die hoofherdenkings in die aand gehou word en die dae gewone werkdae is. Die Joodse kalender beskik oor vier nuwejaarfeeste, waarvan Roosj Hasjana, die "hoof van die jaar", die vernaamste is. Die drie ander nuwejaarfeeste is Toe Bisjwat ("nuwejaar van bome"), Roosj Hasjana Labehemá ("nuwejaar van plaasdiere") en 1 Nisan vir die telling van die maande en bepaling van die groot feeste asook vir die berekening van die jare van 'n Joodse koning se regering. Die einde van die jaarlikse leessiklus van die Tora en die begin van 'n nuwe leessiklus in die sinagoge word op Simgat Tora gevier.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search